Een van die vrae wat baie gereeld aan ons gevra word deur melkboere is : ‘ Hoekom stop die MPO nie invoere nie ?’ Voor 1994 was dit werklik so eenvoudig soos ‘n telefoonoproep van die Melkraad om te keer dat suiwelprodukte ingevoer word. Dit was moontlik omdat die Bemarkingswet bepaal het dat die invoer van suiwelprodukte streng beheer is en slegs toegelaat is met die toestemming van die Melkraad. Hierdie situasie het egter totaal verander nadat Suid Afrika ‘n lid geword het van die Wêreld Handels Organisasie en die Algemene Ooreenkoms op Tariewe en Handel, 1994 (AOTH) onderteken het. Die mees ingrypende gevolge van hierdie stap van die Suid Afrikaanse regering was dat die landbousektor totaal gedereguleer is en dat die betaling van invoertariewe en nakoming van gesondheid, kwaliteit en produkspesifikasievereistes die enigste owerheidregulering ten opsigte van invoere geword het. Die Suid Afrikaanse landbousektor in die geheel, die suiwelbedryf ingesluit, moes feitlik oornag aanpas van ‘n omgewing wat 100% beskerm was teen invoere na ‘n vrye mark omgewing waar invoere vryelik die land mag binnekom solank die bestaande invoertariewe betaal word.
Die Suid Afrikaanse suiwelbedryf is uniek in diè sin dat dit heeltemal volgens vrye mark beginsels werk terwyl die meeste van die ander suiwelproduserende lande in die wêreld se bedrywe op een of ander manier finansieel deur die regering ondersteun word. Dit het egter tot gevolg dat ons suiwelbedryf feitlik op eie stoom gereeld moet meeding met ingevoerde suiwelprodukte waarvan die pryse laag is as gevolg van regeringsbystand.
Die MPO het die risiko’s met betrekking tot die invoer van suiwelprodukte geïdentifiseer en ‘n risikobestuurstelsel ontwikkel wat risiko’s ten opsigte van wettige sowel as onwettige invoere en oregverdige mededinging uitwys en aanspreek. Die Suid Afrikaanse Inkomstediens ( SAID ) beskou nie die invoer van suiwelprodukte as ‘n hoë risiko betreffende die nie-nakoming van Suid Afrikaanse wetlike vereistes en bedrog nie. Dit veroorsaak dat ‘n klein aantal onreëlmatige of onwettige invoertransaksies in die suiwelsektor blootgelê en/of geïdentifiseer word. As gevolg van die bedreiging wat onwettige en sub-standaard invoere vir die bedryf inhou het die MPO die kapasiteit geskep om sulke invoertransaksies te identifiseer en aan te spreek deur die vestiging van die forensiese ondersoekmaatskappy, Agri Inspec. Die maatskappy is verantwoordelik om onrëelmatighede ten opsigte van suiwelinvoere te identifiseer en die nodige stappe te neem om dit aan te spreek.
Invoerstatistiek word gebruik om risiko’s op die volgende grondslag te identifiseer met betrekking tot individuele invoerbesendings:
- ‘n Onverklaarbaarbare toename in die invoer van ‘n spesifieke kategorie van suiwelprodukte,
- Besendings wat die land binnekom teen abnormaal lae pryse in vergelyking met internasionale melk en suiwelkommoditeitspryse en binnelandse pryse; en
- Besendings wat die land binnekom van twyfelagtige bronne soos Singapoer wat nie ‘n suiwelbedryf het nie.
Agri inspec ondersoek geïdentifiseerde invoerrisiko’s deur die volgende stappe te neem:
- Gedetailleerde ontleding van monsters van verdagte produkte om nakoming van Suid Afrikaanse wetlike vereistes te bepaal;
- Noukeurige nagaan van invoerdokumentasie vir afwykings;
- Besoeke aan poorte van binnekoms en invoerders; and
- Opstel van verslae vir indiening by die relevante owerhede.
Die MPO teken formeel beswaar aan by die verteenwoordigers van die lande van oorsprong van laaggeprysde invoere en versoek vergaderings om die relevante inligting te bespreek asook aksiestappe om die probleem aan te spreek.
Die MPO skakel op ‘n deurlopende grondslag op ‘n hoë (beleidsformulering) sowel as operasionele vlak met die volgende staatsdepartemente en ander organisasies ten einde die ondersteuning met betrekking tot invoere te verbeter:
Relevante owerheid |
Insake |
Internasionale Handels-administrasiekommissie (ITAC) |
Beskerming en ondersteuning van die bedryf deur tariefbystand (gewone invoertariewe), tariefverligting (verlaging en korting van invoertariewe) en Handelsremediëe teen onregverdige mededinging |
Departement van Landbou, Bosbou en Visserye |
Ondersteuning en advies ten opsigte van nie-nakoming van Suid Afrikaanse wetlike vereistes vir gehalte, etikettering en produkspesifikasies en onwettige invoere. |
Suid Afrikaanse Inkomste Diens (SAID) |
Alle sake rakende die nie-nakoming van doeanetariefwetgewing |
Departement van Gesondheid |
Advies en ondersteuning ten opsigte van die nakoming van gesondheids en etiketterings wetgewing |
Melk SA Doeanetarief- en Marktoegangadvieskomitee |
Alle handels en doeanetariefaangeleenthede, insluitende invoere en handelsooreenkomste |
Landbouhandelsforum (Departement van Landbou) |
Alle aangeleenthede rakende handelsooreenkomsonderhandelinge |
Departement van Handel en Nywerheid (dti) |
Alle aangeleenthede rakende handel, in die besonder beskerming teen invoere |
Mededingingskommissie / Ander |
Alle inligting relevant tot die beskerming van die bedryf |
Die MPO samel op ‘n deurlopende grondslag relevante internasionale en plaaslike suiwel markinligting in en verwerk dit vir voorlegging aan die regering. Voorts word die owerhede ook versoek om op te tree teen invoerders wat hulle skuldig maak aan die nie-nakoming van SA wetgewing. Beweringe teen invoerders word gestaaf deur dokumentêre bewyse vanaf Agri inspec.
Die MPO het ‘n leemte rakende onvoldoende samewerking en koördinering tussen die staatsinstellings betrokke by doeanedienste ten opsigte van ingevoerde suiwelprodukte geïdentifiseer en vervolgens die Suiwel Klassifikasie en Tegniese Skakelings Komitee op die been gebring. Die komitee bestaan uit verteenwoordigers van verskeie direktorate binne die departement van landbou, die departement van gesondheid, SAID, die Suiwel Standaarde Agentskap, Agri Inspec en die MPO. Alle aangeleenthede rakende die invoer en uitvoer van suiwelprodukte word bespreek en aksiestappe word geneem om probleme aan te spreek. Hierdie forum is uiters waardevol in die MPO se strewe om invoere effektief en doeltreffend te bestuur. |