Algemeen
Die suiwelbedryf is die vierde grootste landbousektor in Suid Afrika en speel ‘n kritiese rol om voedselsekuriteit in die land te bewerkstellig.
Die Melkprodusente Organisasie (MPO) is die voorste bedryfsorganisasie in die land en verteenwoordig opkomende en kommersiële melkprodusente. Tans is daar sowat 2 700 melkprodusente in die land van wie 84% lede van diè vrywillige organisasie is. Die lede van die MPO verteenwoordig meer as 90% van totale melkproduksie in Suid Afrika.
Die MPO lewer ‘n wye reeks dienste aan sy lede, insluitend markbeskerming en ontwikkeling, tegnologie-oordrag, opleiding en kommunikasie.
Een van die MPO se strategiese stukragte is die bevordering van die verbruik van melk en suiwelprodukte by skoolkinders gepaardgaande met aanmoediging vir investering in die bedryf deur rolspelers in die waardeketting en die relevante staatsdepartemente. Die doelwitte van hierdie aktiwiteite is om die beeld van die melkprodusent te verbeter en bewustheid te skep by die verbruiker en die staat ten opsigte van die bydrae van melk en suiwelprodukte tot die fisiese en intellektuele ontwikkeling van kinders en om die vraag na suiwelprodukte te verhoog ten einde markuitbreiding en die groei van die bedryf te bevorder met die oog op toekomstige voedselsekuriteit.
Skoolvoedingskemas, melk ingesluit, is vir dekades baie suksesvol bedryf in die land. Tydens die 1950/60 periode is melk in melkkanne by skole afgelewer en deur onderwyspersoneel aan die leerders uitgedeel. Administrasieprobleme het ongelukkig tot die staking van melkverskaffing aan skole gelei en die fondse is hertoegedeel vir ander doeleindes
Die produk
Melk is steeds een van die natuur se mees volledige voedselsoorte en is ryk aan voedingstowwe soos proteïene en koolhidrate asook minerale (kalsium) en vitamienes. Navorsing het bewys dat melk ‘n merkbare effek het op die ontwikkeling van kinders se fisiese en intellektuele kapasiteit wat op sy beurt ‘n positiewe bydrae tot skolastiese prestasie lewer.
MPO aktiwiteite
Die MPO het die inisiatief geneem en verskeie aktiwiteite aangepak om suiwelverbruik onder skoolkinders aan te moedig. Wat merkwaardig is omtrent die MPO se skolemelk aktiwiteite is dat dit befonds word deur borgskappe en donasies aangesien geen fondse daarvoor beskikbaar is uit die jaarlikse begroting nie.
Vierde Internasionale Skolemelk Konferensie.
Die MPO het in samewerking met die FAO en met die steun van die Nasionale Department van Landbou die vierde Internasionale Skolemelk Konferensie van 6 tot 8 November 2001 by die Spier Landgoed, Stellenbosch aangebied. Die hoofdoel van die konferensie was om bewustheid te skep by beide die staat en die hele suiwel-waardeketting van die voordele van ‘n skolemelkskema en die kritiese belangrikheid van ‘n vennootskap tussen die staat en die hele suiwel-waardeketting om die ekonomiese haalbaarheid en volhoubaarheid van so ‘n skema te verseker. Die konferensie het aan die verskaffers van rou melk asook die prosesseerders en verpakkers daarvan, besluitnemers in die relevante staatsdepartemente en organisasies van deelnemende lande die geleentheid gebied om op ‘n internasionale platvorm inligting en ondervinding te deel ten opsigte van die vestiging en ondersteuning van volhoubare skolemelkskemas. Die Konferensie was goed bygewoon deur afgevaardigdes van verskeie FAO lidlande en het gelei tot die ontwikkeling van ‘n vennootskap tussen die MPO en die nasionale Departement van Landbou ten einde ‘n loods skolemelkprojek te vestig waarby opkomende melkprodusente in Qwa-Qwa en die Oos Kaap betrokke sal wees.
Nasionale Skolemelkdag.
Lidlande van die FAO vier jaarliks Internasionale Skolemelkdag tydens September. Die MPO het ‘n verdere geleentheid geïdentifiseer om die beeld van die melkprodusent te bevorder en die groei van die bedryf aan te moedig deur die voorbeeld van talle lande deur die wêreld te volg en Nasionale Skolemelkdag te vier. Die MPO Vrystaat het die weg gebaan deur melk uit te deel by drie skole in Bloemfontein in 2004 en op 21 September 2005 is die eerste Nasionale Skolemelkdag landwyd gevier. Die MPO het van sy formele strukture wat landwyd in plek is gebruik gemaak om melkprodusente te mobiliseer om aan die geleentheid deel te neem deur melk te skenk en te reël vir die prosessering en verpakking daarvan sodat dit aan leerders by skole in die omgewing versprei kon word. Met die hulp van die MPO is onderwyspersoneel en leerders ook ingelig aangaande die voordele wat die drink van melk inhou. Die dag was baie suksesvol en het wye mediadekking geniet.
Nasionale Skolemelkdag het ontwikkel in ‘n leersame en pret-belaaide geleentheid waardeur sowat 30 000 leerders jaarliks deur die MPO bereik word. As gevolg van die sukses van die geleentheid het die MPO in 2009 ‘n inkleur en -aktiwiteitsboek vir kinders van Graad 0 to 3 in vyf verskillende tale naamlik Engels, Afrikaans, Xhosa, Zoeloe en Sesotho ontwikkel. Saam met die boekies is inkleurvelle en plakkate wat suiwelverbruik aanmoedig en kinders van Skolemelkdag in kennis stel, ontwikkel.
Die MPO het die samewerking van die voedingkundiges werksaam by Melk SA se Verbruikersopvoeding Projek bekom en voedingkundig korrekte Power Point aanbiedinge laat ontwikkel wat ‘n oorsig gee van die voordele verbonde vir kinders aan die drink van melk en gebruik van suiwelprodukte. Die aanbiedinge is in Engels en Afrikaans ontwikkel vir die drie groepe: Graad 0 tot 3, Graad 4 tot 7 en Graad 8 tot 12.
Laai verslae van die MPO se skolemelk aktiwiteite in 2009 en 2010 hier af.
|