1% #PAYINGMILKFORWARD PROJEK SKOP AF IN WES-KAAP

 

Mediaverklaring: vir onmiddellike vrystelling

Die Melkprodusente-organisasie (MPO) het onlangs die projek 1% #payingmilkforward, ook bekend as Project One, geloods met die doel om die nasie te help voed en om die vlakke van wanvoeding te verlig, veral onder die kwesbaarste mense in ons gemeenskappe.

Die Wes-Kaapse Departement van Landbou het op ’n versoek om bydraes gereageer deur ’n donasie van melk ter waarde van R100 000 te maak (R50 000 elk van hul navorsingsmelkerye by Elsenburg in Stellenbosch en Outeniqua in George).

By die oorhandigingseremonie het dr. Mogale Sebopetsa, die nuut aangestelde hoof van die Wes-Kaapse Departement van Landbou, verwys na die moeilike maar interessante tye wat ons as ’n nasie beleef en dat die COVID-19-pandemie ruimte geskep het om deernis en sorg teenoor ons mense te demonstreer, veral diegene wat die kwesbaarste is. Die melkdonasie maak deel uit van die departement se verbintenis tot die Menslike-hulpprogram, veral in die Wynlandgebied.

“Ons het die gemeenskapsorganisasie Shiloh gekies om hierdie donasie te ontvang, want hulle het ’n groot voetspoor in die Wynlande, wat ’n groeiende Covid-19-brandpunt is – die tweede grootste ná Kaapstad,” sê dr. Sebopetsa. Shiloh sal melk en verwerkte voedsel soos jogurt versprei onder kwesbare gemeenskappe in die Wes-Kaap, maar veral in brandpunte soos die Wynlande. Dr. Sebopetsa het beklemtoon hoe belangrik die departement se donasie is toe hy afsluit met die woorde: “Ons wil die verspreiding van COVID-19 stuit.”

Dr. Ivan Meyer, Minister van Landbou in die Wes-Kaap, het uitgewy oor die bestuur van die pandemie in die provinsie. Dit behels dat die verspreiding van die virus vertraag word, asook humanitêre noodleniging  en steun, wat ’n positiewe uitwerking sal hê op die proses van ekonomiese herstel. Hy het ook aangekondig dat hy en dr. Mogale Sebopetsa deur die kabinet aangewys is om leiding te neem ten opsigte van die sstrategie vir die COVID-19-brandpunte in die Wynland-gebied. “Daar is een miljoen mense in die Wynlande, ’n baie belangrike streek in die Wes-Kaap,” sê dr. Meyer. Hy het die MPO bedank vir hul bydrae en genoem dat deernis, waardigheid en menslikheid die belangrikste is in hierdie uitdagende tyd.

Philip Blanckenberg, MPO-verteenwoordiger in die Wes-Kaap, het bevestig dat dit hulle doelwit is om ’n bydrae te maak aan diegene wat ’n bestaanstryd voer en min of geen kos het om te eet nie. “Die melkbedryf is in baie opsigte nie negatief geraak deur die pandemie nie en is dus in ’n voordelige posisie om te kan help. Melkprodusente is ook dankbaar dat die voedingswaarde van ons produk mense se immuunstelsels versterk en gesondheid bevorder,”sê Blanckenberg. Die idee om 1% van produsente se melk te skenk het by die MPO ontstaan weens die grootskaalse armoede en onvoldoende toegang tot voedsel as gevolg van die pandemie.

Voor die 1% projek het produsente reeds melk aan verskeie projekte geskenk, en hulle vergroot nou hul bydrae weens die pandemie. Blanckenberg het die produsente en die Wes-Kaapse Departement van Landbou bedank vir hul ruimhartige skenkings. Hy het ook almal by die die departement bedank vir die rolle wat hulle in hierdie projek speel, asook die kabinet vir die goeie vordering wat hulle maak om die COVID-19-pandemie te stuit.

Blanckenberg het ook erkenning gegee aan die rol van voedselverwerkers in die voedselketting, en aan hul betrokkenheid by die projek. “Ons bedank graag verwerkers soos Lactalis en Nestlé vir die verwerking van melkdonasies.” Lactalis sal die melk van die Departement van Landbou se Elsenburg-melkery verwerk, en Nestlé sal dié van die Outeniqua-melkery verwerk.

Connie Fagan, bestuurder van Regsrisiko en Voldoening by Lactalis SA (voorheen bekend as Parmalat SA) sê Lactalis steun die department se poging, en dat daar saamgewerk moet word om gemeenskappe te ondersteun. Lactalis sal die melkmassa verwerk tot verpakte melk en jogurt, en sal van hul eie produkte byvoeg voordat dit aan Shiloh gelewer word vir verspreiding aan behoeftiges.

Estelle Veldman van Shiloh, ’n projekgroep waarvan Shiloh Food en Shiloh Relief die twee grootste projekte uitmaak, het die skenking namens die groep ontvang. Shiloh Food is reeds sestien jaar lank aktief en hul sukses word toegeskryf aan die sterk verhoudings wat hulle opgebou het met boere, slagters en ander entiteite wat hulle in staat stel om slegs die beste gehalte voedsel te voorsien aan die ontvangers; dit sluit skole, kerke, sopkombuise, kinderhuise en ouetehuise in. Dit illustreer hul doelwit van opheffing deur voeding te verskaf. Hul uitgangspunt is om net maaltye te produseer wat hulle self sou eet.

Shiloh se doelwit is om ’n volhoubare en menswaardige verskil te maak in die lewens van diegene wat die kwesbaarste is, en om hul organisasie so te bestuur dat die gemeenskap die maksimum voordeel trek uit skenkerbydraes.

“Ons voorsien 33 instansies van tussen 2 000 en 3 000 warm, voedsame maaltye per dag, en is ideaal geposisioneer tussen die ontvangers (wat die hart van ons projekte is) en die skenkers (wat in hierdie mense se behoeftes voorsien),” sê Veldman.

Shiloh Relief voorsien maandeliks kospakkies aan gesinne met ’n lae of geen inkomste, rampslagoffers, moeders met pasgebore babas, pensioenarisse en terminaal siekes. Tans is meer as die helfte van die bevolking nie in staat om in hul eie behoeftes te voorsien nie, en COVID-19 het daardie nood vergroot. “Dankie dat u ons hande sterk en ons help om op menswaardige wyse ’n diens te lewer aan diegene wat dit nodig het,” sê Veldman.

Vir die  MPO saamgestel deur Porchia Adams, pH Comms, porchia@phcomms.co.za

26 Junie 2020

Volg #MilkMpo op Twitter en @MilkProducersSA op Facebook, of besoek mpo.co.za vir meer inligting.

Published on Tuesday, 30th June 2020 - 17:33

Recent Posts

CHURN YOUR WEEKEND INTO A WEST COAST CHEESE AND WINE FESTIVAL

12 April 2022 Over the weekend of Saturday 23 to Sunday 24 April, the historic Groote Post Wine Estate, world-renowned for its award-winning wines, will play
Read More

HEAVY RAINFALL, ROADS CLOSURES PUT STRAIN ON KZN’S AGRICULTURAL SECTOR

MEDIA RELEASE                                                                                                                   14 April 2022 The exportation of produce and importation of agricultural related goods has been significantly affected by the recent severe weather conditions
Read More

INTERNATIONAL FARMER PRICES AND DAIRY PRODUCT PRICES AT RECORD LEVELS

MPO POINTER 2/8 April 2022 In Europe, the average farmer price of unprocessed milk is up by 20%. Indeed, a new price regime developed after numerous
Read More

FOOT-AND-MOUTH DISEASE BIOSECURITY STRATEGY FOR THE MILK PRODUCER

FOR IMMEDIATE RELEASE | 31 March 2022   Since 1 March 2022, eight new outbreaks have occurred in four South African provinces. Limpopo              2             11 March
Read More

disclaimer