POSITIEWE MARKVERWIKKELINGE DUI OP VEERKRAGTIGE PRODUSENTEPRYSE

 

MPO AANWYSER 9/18 Augustus 2020

Die jongste statistiek rakende die produksieprysindekse (PPI) van onverwerkte melk en suiwelprodukte en die verbruikersprysindeks (VPI) van melk, kaas en eiers gee ʼn sterk pryssein dat kleinhandelspryse enersyds beduidend gestyg het in die eerste ses maande van 2020 en dat die prys van onverwerkte melk (boerprys) andersyds steeds teen ʼn stadiger tempo toegeneem het sedert Augustus 2017, vergeleke met die sekondêre en tersiêre bedrywe (grafiek 1). Inderdaad is die produsenteprys vir onverwerkte melk in Junie 2020 op dieselfde vlak as in Augustus 2017. Die produsenteprys vir onverwerkte melk probeer nog die heeltyd die ander twee indekse inhaal.

Daar is dus geen rede vir produsentepryse van onverwerkte melk om nou te daal nie. Die ander twee indekse het voldoende gestyg om die produsenteprys vir melk te ondersteun. Melkboere moet egter seker maak dat hulle binne die kontrakvolumes presteer en nie meer melk as per kontrak aan die mark lewer nie. Om volumes te jaag eindig gewoonlik by ʼn laer kapitaalopbrengs en is ʼn selfvervullende profesie.

Grafiek 1: PPI vir onverwerkte melk en suiwelprodukte en die VPI vir melk, kaas en eiers.

Bron: Statistiek SA

Die handhawing van huidige produsentepryse word verder toegelig deur die styging in die waardes van kleinhandelsverkope van suiwelprodukte oor die eerste ses maande van 2020, vergeleke met die ooreenstemmende tyd in 2019 (tabel 1). Die kleinhandel het daarin geslaag om sowel die prysvlakke as die volumeverkope van die meeste suiwelprodukte soos gemonitor deur AC Nielsen te verhoog.

Dié persentasies is dus die gekombineerde effek van verhoogde volumeverkope en die styging in die prys van die produk. Wat die prestasie meer uniek maak, is dat dit grotendeels tydens die grendeltydperk gebeur het. Voorts het die kleinhandel daarin geslaag om prysstygings te beperk tot tussen 0,6% (jogurt) en 8,4% (roomkaas) in Junie 2020 vergeleke met Junie 2019. Langlewemelk het in dieselfde tydperk met 7,8% gestyg.

Tabel 1: Randwaardes van kleinhandelsverkope

Produk Jan ’19 – Jun’19

R (000’000)

Jan’20 – Jun’20

R (000’000)

% styging in die waarde van verkope
Langlewemelk 3 132 3 693 +18%
Vars melk 1 764 1 717 -3%
Gegeurde melk 396 377 -5%
Jogurt 2 810 3 193 +14%
Maas 1 160 1 337 +15%
Vooraf verpakte kaas 1 750 2 107 +20%
Roomkaas 208 231 +11%
Botter 555 636 +15%
Room 398 470 +18%

Bron: Nielsen, verskaf deur SAMPRO met berekeninge deur die MPO.

AC Nielsen Bemarking en Media verskaf inligting gebaseer op maandelikse opnames van kleinhandelsverkope van melk en suiwelprodukte. Groothandelsverkope en industriële verkope, wat ʼn noemenswaardige deel vorm van die totale suiwelverkope, word egter nie deur die opname gedek nie.

Die opname vir langlewemelk, gegeurde melk, jogurt, maas en vooraf verpakte kaas word gedoen onder die volgende tipes verkoopspunte:

  • “Hypermarkets” en “supermarkets” soos Shoprite, Checkers, Pick ʼn Pay Supers, Pick ʼn Pay Family, Superspar en Woolworths (Voedsel);
  • “Convenience stores” (“Branded Superettes” soos Kwikspar, OK Foods, Sentra, Pick ʼn Pay mini, Score, Friendly, Shield (“Retail”), 7-Eleven en Forecourts);
  • “Urban Counter” en “Self Service”; en
  • “Rural Independents”.

In die geval van vars melk, room, botter en roomkaas is die opname beperk tot “major stores”, bedoelende “hypermarkets” en “supermarkets”.

Uit bogenoemde is dit duidelik dat alhoewel die opname nie alle produkte dek nie, dit insiggewend is met betrekking tot wat in die suiwelmark gebeur. Dit is egter so dat sekere suiwelprodukverkope feitlik tot stilstand gekom het gedurende die grendeltydperk as gevolg van byvoorbeeld restaurante en kitskosondernemings wat gesluit was. Die dinamika in die waardeketting was egter gesofistikeerd genoeg om die vloei van onverwerkte melk te kanaliseer na produkte wat juis in die grendeltyd hoër verbruikersvraag ervaar het.

Opsommend

Dit blyk uit die beskikbare statistiek dat suiwelprodukte ʼn onderskeidingsplek in die verbruikersmandjie verwerf of behou het, ten spyte van moeilike sosio-ekonomiese omstandighede en vier opeenvolgende kwartale van negatiewe ekonomiese groei.

Daar is meer as een datareeks wat regverdiging bied vir die instandhouding van die huidige vlak van produsentepryse. Indien produsentepryse verlaag word, sal dit bloot wees omdat die rolspelers laer af in die waardeketting dit eensydig kan doen, want ekonomiese regverdiging is daar nie.

Natuurlik is dit belangrik dat die aanbod vanaf produsente in pas moet bly met die kontrakvolumes waarvoor die sekondêre bedryf beplan het. Indien addisionele onverwerkte melk geproduseer en rondgekarwei word, gaan dit lei tot afwaartse druk op produsentepryse.

Bertus van Heerden, hoofekonoom, Melkprodusente-organisasie (MPO)

Laai die MPO Aanwyser 9 19 Augustus 2020_Finaal pdf hier af

Published on Tuesday, 18th August 2020 - 09:05

Recent Posts

CHURN YOUR WEEKEND INTO A WEST COAST CHEESE AND WINE FESTIVAL

12 April 2022 Over the weekend of Saturday 23 to Sunday 24 April, the historic Groote Post Wine Estate, world-renowned for its award-winning wines, will play
Read More

HEAVY RAINFALL, ROADS CLOSURES PUT STRAIN ON KZN’S AGRICULTURAL SECTOR

MEDIA RELEASE                                                                                                                   14 April 2022 The exportation of produce and importation of agricultural related goods has been significantly affected by the recent severe weather conditions
Read More

INTERNATIONAL FARMER PRICES AND DAIRY PRODUCT PRICES AT RECORD LEVELS

MPO POINTER 2/8 April 2022 In Europe, the average farmer price of unprocessed milk is up by 20%. Indeed, a new price regime developed after numerous
Read More

FOOT-AND-MOUTH DISEASE BIOSECURITY STRATEGY FOR THE MILK PRODUCER

FOR IMMEDIATE RELEASE | 31 March 2022   Since 1 March 2022, eight new outbreaks have occurred in four South African provinces. Limpopo              2             11 March
Read More

disclaimer