Nuwe handelshorisonne – Van toe tot nou

Die suiwelhandelsomgewing het die afgelope twee dekades ‘n gedaanteverwisseling ondergaan van hoogs gereguleerd, ten volle beskerm en geïsoleer tot ‘n vrye mark met die klem op handelsliberalisering. Dit het ‘n ingrypende vernuwing in denke veroorsaak omdat dit die deurlopende optimalisering van  effektiwiteit en mededingendheid vereis.

Tot 1996

Van 1939 tot 1994 is die suiwelbedryf in geheel gereguleer deur die Suiwelraad, ‘n statutêre liggaam gevestig ingevolge die Bemarkingswet, 1937. Buiten prysbeheer en surplusverwydering het die Wet ook invoerbeheer ingesluit wat tot gevolg gehad het dat suiwelinvoere streng beheer is en slegs toegelaat is indien die Suiwelraad toestemming gegee het. Die bedryf was dus honderd persent beskerm en geïsoleer van die internasionale handelsomgewing en mededinging van ingevoerde produkte.

Die winde van verandering het begin waai met die afskaffing van die Suiwelskema vanaf 1 Januarie 1994. Die Suiwelraad wat namens die primêre en sekondêre bedryf opgetree het, het ook op 31 Desember 1993 alle aktiwiteite gestaak en op 1 Januarie 1994 het die Melkraad tot stand gekom.  Die Melkraad het net die primêre bedryf – melkprodusente – verteenwoordig en het bestaan uit 13 produsentelede.

Alles nuut

In 1995 het Suid-Afrika ‘n lid geword het van die Wêreld-Handels-Organisasie (WHO) en die Algemene Ooreenkoms op Tariewe en Handel onderteken. Die mees ingrypende gevolge van hierdie stap deur die Suid Afrikaanse regering was dat die landbousektor totaal gedereguleer is. Die Wet op die Bemarking van Landbouprodukte, No 47 van 1996 het ‘n nuwe stel reëls in die handelsomgewing gevestig – reëls wat drasties verskil het van vorige wetgewing en die handelsomgewing vir suiwelprodukte heeltemal verander het.

“Produsente het nou die verantwoordelikheid vir die produksie van hulle melk en kan melk verkoop aan die koper van hulle keuse teen ‘n wedersyds ooreengekome prys.”

Bemarkingsrade is uitgefasseer en het op 31 Desember 1997 ophou bestaan. Invoerbeheer is afgeskaf en vervang met invoertariewe. Die Suid Afrikaanse landbousektor in die geheel, die suiwelbedryf ingesluit, moes feitlik oornag aanpas van ‘n omgewing wat 100% beskerm was teen internasionale mededinging na ‘n vryemark omgewing waar invoere vrylik die land kon binnekom solank invoertariewe betaal is en voldoen is aan voorgeskrewe gehalte en gesondheidstandaarde.

Hoe is invoertariewe bepaal ?

ITAC, oftewel die Internasionale Handels Administasie Kommissie wat die Raad op Tariewe en Handel vervang het, is die regeringsinstansie verantwoordelik vir alle invoertariefaangeleenthede. Voor 2003 is ‘n afsonderlike tariefbeleid vir landbouprodukte toegepas omdat die wêreldhandel in landbouprodukte verwring is as gevolg van direkte en indirekte subsidies en ander regeringsbystand. Die beleid het behels dat invoertariewe op landbouprodukte vasgestel is op vlakke wat die speelveld ook gelyk gemaak het teen produkte wat ingevoer is teen gesubsidieerde pryse of pryse wat beïnvloed is deur regeringsbystand. Die invoertariewe wat tans betaalbaar is op ingevoerde suiwelprodukte  is ingestel op 2 Januarie 1998.

Wat is die invoertariewe op suiwelprodukte ?

Invoertariewe op suiwelprodukte wissel van vry van reg – nultarief – tot R5,00 per kilogram ingevoerde produk. Geen invoertarief is betaalbaar op vloeibare melk en room (UHT ingesluit) en jogurt nie. Invoerders van melkpoeier betaal ‘n invoertarief van R4,50 per kg en R5,00 per kg vir botter en kaas.

Speel handelsooreenkomste ‘n rol?

Invoertariewe word ook beïnvloed deur die AOTH en Handels en Ontwikkelingsooreenkomste wat Suid-Afrika met verskeie lande gesluit het. Ter illustrasie kan die nultarief van toepassing op UHT melk nie verhoog word teen die lidlande van die Europese Unie en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelings Gemeenskap (SADC) nie aangesien dit volgens ooreenkoms gebind is teen ‘n nulkoers. Dit beteken dat selfs indien ‘n invoertarief op die produk ingestel word, dit net betaalbaar sal wees op invoere vanaf ander bronne soos die VSA en Suid-Amerikaanse lande.

Die rol en doel van tariewe

Volgens ITAC word tariewe gebruik as handel en -nywerheidsbeleidsinstrumente waarvan die hoofdoelwit is om plaaslike produksie, die behoud en skepping van werksgeleenthede en internasionale mededingendheid te bevorder. Die uitdaging van werkloosheid word in ag geneem wanneer die kriteria vir die beoordeling van tariefaansoeke toegepas word. Tariefbystand is voorwaardelik en is direk gekoppel aan begunstigdes se prestasie ten opsigte van die bereik van regeringsbeleidsdoelwitte. Invoertariewe word nie beskou as ‘n maatreël om binnelandse bedrywe te beskerm teen ingevoerde produkte nie. Handelsremedieë is die handelsbeleidsinstrument wat ten doel het om ‘n omgewing vir regverdige handel te skep. Die instrument sal in ‘n volgende artikel behandel word.

Hierdie beleid het tot gevolg dat ITAC baie streng kriteria toepas ten opsigte van aansoeke vir die instelling of verhoging van gewone invoertariewe op alle produkte, landbouprodukte ingesluit.

Hoe doen ‘n bedryf aansoek vir hoër tariewe ?

Om ‘n invoertarief op ‘n produk ingestel te kry of bestaande tariewe te verhoog, is nie meer ‘n eenvoudige oefening soos in die verlede nie. Die prosedure wat gevolg moet word vir die opstel en indien van tariefaansoeke word omskryf in ITAC se Regulations Tariff Investigations.

Gestel die suiwelbedryf wil ‘n versoek rig tot ITAC vir die instelling van ‘n invoertarief  op UHT melk.  ITAC verwag van die applikant – die verwerker van UHT melk of die verteenwoordigende organisasie – om ‘n standaardvraelys in ‘n konfidensiële en nie-konfidensiële formaat (wat beskikbaar gemaak kan word aan enige belanghebbende party) te voltooi en sal slegs deur ITAC aanvaar word as ‘n volledig gedokumenteerde aansoek indien al die vrae beantwoord is. ITAC se ondersoekbeamptes het die reg om alle koste en finansiële inligting wat in ‘n aansoek verskaf is ter plaatse te verifieer. Behalwe die volledige tariefklassisfikasie en beskrywing van die produk waarvoor ‘n invoertarief versoek word moet die volgende inligting vir ‘n drie jaar periode verskaf word :

  • die grootte van die mark,
  • besonderhede van ander verwerkers van die produk,
  • belegging in produksie,
  • besonderhede van werkerskorps,
  • koste van produksie,
  • detail van invoere,
  • produksiehoeveelhede en waardes,
  • produksiekapasiteit,
  • verkoopsyfers,
  • geouditeerde finansiële state ; en
  • inligting ten opsigte van die negatiewe effek wat ingevoerde produkte op die bedryf het.

Kan die MPO aansoek doen vir die instelling of verhoging van invoertariewe ?

Die inligting wat deur ITAC vereis word vir tariefaansoeke is van so ‘n aard dat dit net verskaf kan word deur die vervaardigers of verwerkers van die spesifieke produk of hulle verteenwoordigende organisasie. Die MPO verteenwoordig melkprodusente wie se produk rou melk is. Alle suiwelprodukte wat ingevoer word is verwerk soos UHT melk en word geproduseer deur die sekondêre bedryf oftewel melkverwerkers wie verteenwoordig word deur SAMPRO. Die MPO kan wel insette lewer ten opsigte van tariefaansoeke.

Die internasionale handelsomgewing is kompleks en die veranderinge van 1994 af het verreikende implikasies vir landbou en die suiwelbedryf ingehou. Die suiwelbedryf het te midde van die omwentelings gefokus op effektiwiteit en mededingendheid sodat ons melkprodusente vandag onder die bestes in die wêreld tel !

http://www.itac.org.za/upload/scan0125.pdf Regulations tariff investigations

http://www.itac.org.za/pages/services/tariff-investigations/application-forms Tariefondersoeke aansoekvorms

Published on Wed, 18th Oct 2017 - 22:25

Recent Posts

ON A JOURNEY TO VALUE

For me, it is the fundamental principle of a producer organisation to serve the interests of the members. The MPO structure is now streamlined to do
Read More

PRODUKSIE VAN ONVERWERKTE MELK vir Desember 2021

MPO FLITS 01/20 Januarie 2022a Die produksie van onverwerkte melk in Desember 2021 word geskat op 313 miljoen liter, dit is 2,60% meer as in Desember
Read More

UNPROCESSED MILK PRODUCTION for December 2021

MPO FLASH 01/20 January 2022 Unprocessed milk production for December 2021 is estimated at 313 million litres, 2,60% more than in December 2020. Cumulative unprocessed milk
Read More

HERSTRUKTURERING: WAT OM TE OORWEEG EN WAT DIT BEHELS deur Abrie Bronkhorst en Emmirenchia Loots

Besighede funksioneer in ’n uitdagende omgewing waar die ekonomiese klimaat en ander eksterne kragte ’n onderneming met min ander keuses kan laat as om te herbelyn,
Read More

disclaimer