Deur die pryse van ingevoerde suiwelprodukte te gebruik om ons kompeterendheid te evalueer is kortsigtig

MPO AANWYSER 7/25 November 2021

WAAROM SUID-AFRIKAANSE MELKBOERE NIE KAN MEEDING MET INGEVOERDE SUIWELPRODUKTE NIE

Daar word dikwels geredeneer dat die vermoë van die plaaslike melkbedryf om te groei of selfs net te oorleef, afhang van die mate waarin die plaaslike bedryf kan meeding met ingevoerde melkprodukte. Hierdie stelling ontbloot in groot mate die kwesbare posisie van die Suid-Afrikaanse melkboer. Veels te dikwels word die verlies aan ’n behoorlike winsmarge onder melkverwerkers en kleinhandelaars na die melkprodusent teruggedruk deur verlaagde plaashekpryse vir melk. Dit is een van die vernaamste redes waarom so baie produsente in die onlangse jare opgehou melk produseer het. Diegene wat nog voortgaan, besef die enigste manier om te oorleef is om die skaal van hul bedryf te vergroot (wat dikwels verkeerdelik gebruik word as bewys van toenemende konsentrasie).

Die Melkprodusente-organisasie (MPO) voer baie jare lank reeds aan dat die vlak van vry-aan-boord-(VAB-) pryse van ingevoerde suiwelprodukte uit die Europese Unie (EU), Ierland, Oos-Europese lande en die Verenigde Koninkryke onrealisties en onbillik is. Dit is grootliks die resultaat van fondse waarmee boere en suiwelverwerkers in Europa gesubsidieer word. Daar is vyf Europese Unie fondse wat landbou- en landelike ontwikkeling steun, benewens die vele regstreekse betalings aan boere kragtens die Gemeenskaplike Landboubeleid (‘Common Agricultural Policy’). Hierdie fondse sluit in die ‘European Regional Development Fund’ (ERDF) – vir streeks- en stedelike ontwikkeling; die ‘European Social Fund’ (ESF) – vir sosiale insluiting en goeie staatsbestuur; ‘Cohesion Fund’ (CF) – vir ekonomiese konvergensie deur minder ontwikkelde streke; die ‘European Agricultural Fund for Rural Development’ (EAFRD) en die ‘European Maritime and Fisheries Fund’ (EMFF). Onlangs is ook subsidies ingestel vir volhoubare-energie-projekte. Programme en toepassings van hierdie fondse verlaag kostes in die waardeketting en stel Europese lande in staat om produkte en kommoditeite teen verlaagde (onbillike) pryse op die internasionale mark beskikbaar te stel. Subsidies word aan boere in Europa betaal soos uiteengesit in die ‘Common Agricultural Policy’. In 2017 is €41 miljard aan boere betaal, en in 2020 het die bedrag aangegroei tot ’n geraamde €59 miljard – ’n styging van byna 15% per jaar.

Billlike mededinging tussen maatskappye en lande regoor die wêreld is die aandrywer van die optimale allokering van produksiefaktore wat markte in staat stel om prysvlakke te ontdek vir verskillende produksiefaktore gebaseer op vraag en ’n weerspieëling van skaarsheid. Onbillike mededinging vanweë subsidies deur regerings verwring hierdie markte, en dit veroorsaak onbehoorlike ekonomiese beleid en verlaagde ekonomiese groei en welvaartskepping. Uiteindelik vernietig dit ’n land se vermoë om voedselsekuriteit te verseker of die uitvoermark te betree.

Nieteenstaande die afwesigheid van bindende reëls vir mededinging binne die Wêreldhandelsorganisasie (WTO), is kommer oor mededinging reeds lank ’n fundamentele kwessie in die internasionale handelstelsel. Hoewel mededingingsbeleid van die Doha-agenda geskrap is, het anti-mededingingspraktyke aanhou aandag trek. Dus het verskeie internasionale instellings, soos die ‘Organization for Economic Cooperation and Development’ (OECD), die ‘International Competition Network’ (ICN), die Verenigde Nasies se konferensie oor handel en ontwikkeling (UNCTAD), en die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) aktief besprekings gevoer oor die skepping van internasionale raamwerke om vorm te gee aan mededingingsbeleid.

Daar is ’n treffende ooreenkoms tussen die doelwitte van die WHO en dié van wette met betrekking tot mededingingsbeleid in sekere lande. Die gemeenskaplike sleutelkonsepte is onder meer die bevordering van ’n oop mark, voorsiening van billike en gelyke sakegeleenthede aan elke deelnemer in die mark, deursigtigheid en billikheid in die reguleringsproses, die bevordering van doeltreffendheid, en die maksimering van verbruikerswelstand.

Hierdie skrywe spruit voort uit die aanname dat belangrike sinergieë bestaan tussen ekonomiese, handels- en internasionale mededingswette en dat dit redelik is om te aanvaar dat vars nadenke en algehele hersiening van verwante sake nodig is wanneer, byvoorbeeld, die Suid-Afrikaanse suiwelbedryf ontleed word.

Ons ontleding van die invoerdata van suiwelprodukte vir die eerste nege maande van 2021 bied genoeg bewyse om gemene spel in die mark vir suiwelprodukte te vermoed. Ierland en Nederland is gesamentlik verantwoordelik vir 91% van alle Cheddar-invoere na Suid-Afrika tussen Januarie en Desember 2021. Om die ‘billike prysbepaling’ van hierdie invoere te evalueer, bereken ons in Tabel 1 die koste van die melk wat nodig is om 1 kg Cheddarkaas te vervaardig (kolom E) gebaseer op die verskillende plaashekpryse in elk van die spesifieke lande. Die omsettingsfaktor van melk na Cheddarkaas is 9,52 liter melk om 1 kg Cheddar te vervaardig. In kolom C word die vry-aan-boord-prys wat vir die ingevoerde Cheddar betaal is, aangedui. Die VAB-prys is die prys in die uitvoerhawe, uitgesluit die laai- , vrag- en versekeringskoste. In al die invoertransaksies wat individueel ontleed is uit die drie lande wat betrokke is, oorskry die koste van net die melkkomponent die VAB-prys in kolom C, wat die VAB-prys is wat deur die invoerder in Suid-Afrika betaal word.

’n Terugwaartse raming van die VAB-prys van Cheddar teenoor die koste van slegs die melkkomponent laat geen fondse beskikbaar om die volgende kostes te dek nie:

  • Cheddar-vervaardigingskoste;
  • Verpakkingsmateriaal;
  • Stoorkoste;
  • tydwaarde van geld tydens stoor;
  • Vervoer na die hawe en aflaai in die hawe; en
  • agentekomissie.

Daar is ook geen marge beskikbaar vir die vervaardiger nie.

Tabel 1 Cheddar-invoere van Januarie 2021 tot September 2021

A B C D E
Land van oorsprong Volume (ton) Gemiddelde VAB-prys/kg Gemiddelde plaashekprys R/ℓ (Jul 2020–Sept 2021) Koste van melk om 1 kg Cheddar te vervaardig
Ierland 452 59,42 7,03 66,93
Nederland 660 60,10 6,69 63,69
Frankryk 21 46,78 6,91 65,78
Totaal 1 133
Totaal alle Cheddar 1 236

(Bron: SAID soos beskikbaar gestel deur Agri Inspec; Europese Kommissie)

Oor die tydperk Julie 2019 tot September 2021 was die laagste prys wat aan boere in Ierland betaal is, R6,51, in Nederland was dit R6,40 en in Frankryk R6,38. Selfs teen hierdie laagste pryse is die bevinding in Tabel 1 steeds van krag.

Wie dra dan hierdie kostes en winsmarge? ’n Mens kan maar net spekuleer dat programme van die Europese-Unie-fondse kostebesparende geleenthede bied wat die suiwelvervaardigers in staat stel om lewensvatbaar en winsgewend te bly. Dit is egter ten koste van baie melkboere regoor die wêreld, meestal in armer lande waar geen fondse vir subsidies beskikbaar is nie.

Om die punt verder te staaf: dit is maklik om te verklaar dat ’n bedryf in staat moet wees om mee te ding teen ingevoerde produkte, en dit af te maak met “moenie bekommer nie, die mark sal dit uitsorteer”, maar dit is te simplisties. Wat kortkom, is die woorde “billik geprysde invoere”, en dit resoneer met die internasionale reg met betrekking tot mededingende gedrag.

In Tabel 2 ontleed ons ingevoerde ultra-hoog temperatuur- (UHT-) verwerkte melk uit Pole, wat verantwoordelik is vir 74% van alle UHT-verwerkte melkinvoere vir die tydperk onder oorsig. Kolom C toon die VAB-pryse vir die UHT-verwerkte melkinvoertransaksies uit Pole op ’n maandelikse grondslag. In kolom D word die pryse wat betaal word aan boere vir melk in Pole getoon. ’n Mens kan aanvaar dat daar ’n tydsverloop sal wees tussen die vervaardigingsmaand van die UHT-verwerkte melk, die uitvoer daarvan en die maand waarin die melk gekoop is van die ooreenstemmende prys wat in daardie maand aan boere betaal is. Nietemin, die winsmarge, soos weerspieël in kolom E, synde die verskil tussen C en D, is voldoende om die volgende ontledings betekenisvol te maak in die weerspieëling van sekere ongerymdhede.

Tabel 2 UHT-verwerkte melkinvoere uit Pole (Jan–Sept 2021)

A B C D E
Maand Volume (kg) VAB-prys (R/kg) Prys aan boere betaal (R/kg) Marge wat oorbly om alle ander kostes te dek
Jan. 938 400 8,87 6,07 2,80
Feb. 1 224 000 8,94 5,89 3,05
Mrt. 612 000 8,75 5,86 2,89
Apr. 612 000 8,54 5,71 2,83
Mei 1 674 896 8,38 5,69 2,69
Jun. 1 352 610 8,19 5,57 2,62
Jul. 2 152 052 8,75 5,88 2,87
Aug. 6 673 418 9,05 5,80 3,25
Sept. 3 160 300 9,05 5,92 3,13

(Bron: SARS soos voorsien deur Agri Inspec; Europese Kommissie)

Om ’n margeverspreiding te doen soos in kolom E, moet die ander kostekomponente van UHT-verwerkte melkvervaardiging (uitgeslote die koste van die onverwerkte melk) geallokeer word:

  • Vervaardigingskoste: R1,31/liter
  • Verpakking: R1,95/liter
  • Vervoer vanaf Warskou na uitvoerhawe: Gdynia: R0,25/liter
  • Agentekommissie: R0,08/liter
  • Winsmarge: R0,30/liter
    • Minimum margetekort is in Augustus = R0,64/liter en maksimumtekort is in Junie = R1,27/liter.
  • Ander kostes nie ingesluit nie is die tydwaarde van geld tydens stoor en stoorkoste in the verwerkingsaanleg, en verliese.

Die samestelling van die primêre melkbedryf in Pole met klein melkkuddes per plaas laat onvermydelik die vraag ontstaan wat die finansiële lewensvatbaarheid is van ’n kudde van 50 melkkoeie.

Bogenoemde twee voorbeelde (Cheddarkaas en UHT-verwerkte melk) vertoon voldoende bewyse om die billikheid te bevraagteken om die pryse van ingevoerde suiwelprodukte te gebruik as grondslag om te bepaal of die plaaslike melkmark mededingend is. Rolspelers stroom-af in die waardeketting (die sekondêre en tersiêre bedrywe) wat hierdie distorsie gebruik as ’n vertrekpunt in prysonderhandelinge het groot skade aangerig aan die primêre melkbedryf en sal die Suid-Afrikaanse melkbedryf finaal vernietig indien hierdie modus operandi nie gestuit word nie.

Die ekonomiese realiteite in die twee suiwelvoorbeelde is genoeg bewyse om die Minister van Handel en Nywerheid (afskrif aan die Minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike ontwikkeling) te versoek om ʼn ministeriële komitee aan te stel om dié ekonomiese realiteite te ondersoek en die effek daarvan op die Suid Afrikaanse waardeketting. Die MPO sal ʼn tussenganger gebruik om die proses te inisieer.

Die totale waarde van suiwelinvoere oor die tydperk onder oorsig word geïllustreer in die grafiek hieronder. Die totale waarde van suiwelinvoere vir die eerste nege maande van 2021 was R2,3 miljard.

Bertus van Heerden (hoofekonoom, Melkprodusente-organisasie, MPO)

Johann Kirsten (Direkteur: Buro vir Ekonomiese Ondersoek, Stellenbosch Universiteit)

Laai die MPO aanwyser hier af in PDF formaat.

Published on Thu, 25th Nov 2021 - 13:53

Recent Posts

OP SOEK NA ’N NUWE STRATEGIESE VISIE

Op 9 November het AgriFusion ’n strategiese beplanningsessie vir die MPO-direksie en bestuurspan gefasiliteer waartydens gekyk is na verwagtinge, strategiese faktore, die storie van die organisasie,
Read More

Sundale Schreiber open R 97.1m cheese processing plant in East London  

PRESS RELEASE 16 November 2021 The Joint Venture (JV) between local Sundale Dairy and global giant, Schreiber Foods in a Slice-on-Slice (SOS) cheese processing plant at
Read More

2021 Winners of Agricultural Writers SA Awards

Press Release 12 November 2021 South Africa’s top contributors to agriculture have been recognised at the Agricultural Writers SA Awards 2021. The event, sponsored by Bayer,
Read More

World Antimicrobial Awareness Week: be hygienic, be responsible and don’t over-medicate

The world of science gave us antibiotics to treat serious illnesses, but what happens when antibiotics and other antimicrobials are misused to the extent that humans
Read More

disclaimer