DIE SAMPIOEN-EFFEK IN MELKPRODUSENTEPRYS-‘ONTDEKKKING’

 

MPO Aanwyser 6/15 April 2020

 

Die MPO is bewus van sekere kommunikasies vanaf rolspelers stroomaf in die suiwelwaardeketting betreffende melkprysverhogings soos dit van toepassing is op produsente, verwerkers en kleinhandelaars gedurende die nasionale ramptydperk. Hierdie kommunikasies weerspieël nie korrekte interpretasies of weergawes van die Regering se riglyne met betrekking tot prysbepaling gedurende ’n nasionale ramptydperk nie.

Die kern van die kommunikasies vanaf sekere verwerkers en kleinhandelaars is dat prysstygings nie moontlik is nie weens die ‘beperking’ dat basiese voedselpryse nie toegelaat word om te styg in hierdie tydperk nie. ’n Ander invalshoek wat gebruik word is dat geen pryse verhoog sal word tydens die grendeltyd nie weens die pryssensitiwiteit van voedselprodukte in hierdie tydperk. Beide hierdie argumente word deur rolspelers stroomaf in die waardeketting foutiewelik gebruik om te motiveer waarom onderhandelde prysverhogings nie in werking kan tree nie, of waarom onlangse produsenteprysverhogings (soos winterpremies) gaan wegval.

Die MPO se opinie is dat Regeringskennisgewing R.350 (Government Notice No.R.350), wat op 19 Maart 2020 deur die Departement van Handel en Nywerheid uitgereik is met die titel Consumer and customer protection and national disaster management regulation and directions, inderdaad spesifiek voorsiening maak vir verhogings in die prys van basiese voedsels in hierdie tydperk. Dit rig egter ’n streng waarskuwing teen buitensporige prysverhogings. Die Regeringskennisgewing gee ’n gedetailleerde uiteensetting van die voorsiening van goedere en dienste wat in Aanhangsels A en B gelys word.

Aanhangsel A:

  1. basiese voedsel en verbruikersitems;
  2. noodprodukte en dienste;
  3. mediese en higiënevoorrade; en
  4. nood-reinigingsprodukte en dienste.

Aanhangsel B:

Lys 22 produkte waar maatreëls van die regering kan insluit beperking van die aantal items van goedere wat ’n verbruiker of klant mag koop binne ’n gedefinieerde tydperk, of tyd:

  • toiletpapier
  • handreiniger
  • gesigsmaskers
  • Ontsmetting-skoonmaakmiddels
  • chirurgiese handskoene
  • chirurgiese maskers
  • ontsmettingsdoekies
  • antiseptiese vloeistowwe
  • veeldoelige skoonmaakmiddels
  • babaformule
  • weggooidoeke
  • bleikmiddel
  • kookolie
  • koringmeel
  • rys
  • mieliemeel
  • pasta
  • suiker
  • langlewemelk
  • geblikte en bevrore groentes
  • geblikte, bevrore en vars vleis, hoender of vis en
  • gebottelde water.

Die kennisgewing verduidelik verder ingevolge artikel 120 (1)(d) van die Wet op Verbruikersbeskerming (68 van 2008) dat, gedurende enige tydperk van die nasionale ramp, verhoging in die prys van ’n produk of diens soos aangedui in Bylae A, wat:

  • nie ooreenstem met, of nie ekwivalent is aan die styging in die koste van die voorsiening van daardie produk of diens nie; of
  • ’n styging teweeg bring in die netto marge of opmerkpersentasie op daardie produk of diens bo die gemiddelde marge, of opmerkpersentasie vir daardie produk of diens vir die driemaande-tydperk voor 1 Maart 2020

’n relevante en kritieke faktor is om te kan bepaal of die prys buitensporig of onbillik is.

Dus: solank daar aan bogenoemde riglyne voldoen word, is redelike prysverhogings inderdaad moontlik en aanvaarbaar.

Die MPO is verder van mening dat prysverhogings in die kleinhandelsomgewing vir suiwelprodukte reeds in Januarie en Februarie 2020 plaasgevind het. Die verbruikersprysindeks (VPI) vir melk, kaas en eiers het in Januarie met 3% jaar-tot-jaar gestyg en in Februarie 2020 met 3,29% (bron: Stats SA). Hierdie verhogings sou marges in die kleinhandelsektor verbeter het en sou dien as ’n voorloper tot prysverhogings vanaf Maart en later vir die rolspelers stroomop in die waardeketting. Enige motivering deur kleinhandelaars dat onderhandelde pryse nie geïmplementeer kan word nie, of nie van toepassing kan bly waar dit reeds geïmplementeer is nie, is strydig met die statistiese bewyse en die toegewings in die Regeringskennisgewing wat handel met prysverhogings tydens enige nasionale ramptydperk.

Die MPO is betrokke by ’n wye konsultasieproses om op hoogte te kom van die beskikbare remedies waar dominante ondernemings in ’n waardeketting teenwoordig is tydens ’n nasionale ramptydperk en daarna.

Bertus van Heerden, hoofekonoom, Melkprodusente-organisasie (MPO)

Laai die MPO Aanwyser hier af

Published on Wednesday, 15th April 2020 - 15:06

Recent Posts

CHURN YOUR WEEKEND INTO A WEST COAST CHEESE AND WINE FESTIVAL

12 April 2022 Over the weekend of Saturday 23 to Sunday 24 April, the historic Groote Post Wine Estate, world-renowned for its award-winning wines, will play
Read More

HEAVY RAINFALL, ROADS CLOSURES PUT STRAIN ON KZN’S AGRICULTURAL SECTOR

MEDIA RELEASE                                                                                                                   14 April 2022 The exportation of produce and importation of agricultural related goods has been significantly affected by the recent severe weather conditions
Read More

INTERNATIONAL FARMER PRICES AND DAIRY PRODUCT PRICES AT RECORD LEVELS

MPO POINTER 2/8 April 2022 In Europe, the average farmer price of unprocessed milk is up by 20%. Indeed, a new price regime developed after numerous
Read More

FOOT-AND-MOUTH DISEASE BIOSECURITY STRATEGY FOR THE MILK PRODUCER

FOR IMMEDIATE RELEASE | 31 March 2022   Since 1 March 2022, eight new outbreaks have occurred in four South African provinces. Limpopo              2             11 March
Read More

disclaimer