TURBO-AANGEJAAGDE MARKSEINE IS DIE SLEUTEL

 

MPO AANWYSER 7/20 MEI 2020

“Gelukkig is die land waar die ekonome of markontleders hulle nie uitgee vir motiveringsprekers nie.” – Onbekend

Die primêre landbou bly ’n beleggingsklas bate. In onlangse aanlynbesprekings met Agri SA en die TLU het stemme uit verskillende bedrywe opgegaan oor belangrike aangeleenthede, en dit het duidelik geword dat die primêre bedrywe veerkragtig is. Die woorde van Winston Churchill tydens die Tweede Wêreldoorlog lyk hier gepas: “Never was so much owed by so many to so few.” Voedselproduksie in die land gaan eenvoudig voort ongeag moeilike en onseker omstandighede. Die belang en bydrae van ’n produktiewe landbousektor blyk duidelik. Natuurlik strek dit verder as die boer en die plaaswerkers; dit sluit alle rolspelers in die landbouwaardeketting in.

Die krag van ’n produktiewe landbousektor

Die rol van georganiseerde bedrywe of landbou kom ook sterk na vore. Produsente-organisasies identifiseer op ’n weeklikse grondslag kwessies of probleme via Agri SA se bedryfskamer, en hierdie kwessies en moontlike oplossings word dan gelug by die onderskeie ministeriële werksgroepe. Die MPO het die volgende sake op die agenda of radar van die Minister van Landbou geplaas:

  • Staatskennisgewing R350, wat nie gebruik kan word om te motiveer waarom produsentepryse nie verhoog kan word nie.
  • Op 7 April het die MPO ’n motivering ingedien om kitskosondernemings weer te open. Die versoek is gebaseer op die verslapping van die regulasies vir spazawinkels, wat ooreenstem met kitskosondernemings. Laasgenoemde ondernemings het vir aflewerings heropen op vlak 4 van die grendelstaat.
  • Die potensiële markontwrigting wat kan ontstaan weens die opbou van verskillende klasse suiwelvoorrade wêreldwyd, wat kan lei tot ’n ooraanbod wanneer die binnelandse markte open. Suid-Afrika bou ook voorraad op en die MPO bepleit ’n meganisme van die een of ander aard om eers hierdie voorraad te beweeg voordat voorrade ingevoer word.
  • Eiendomsbemarkers kon nie Suid-Afrikaanse landbou-eiendomme bemark nie, en die gebrek aan logika rakende die inperking is uitgewys. Die besighede sal open vir sake as deel van vlak 3 van die grendelstaat.

Internasionale kommoditeitspryse

Bron: FAO

Oor die afgelope twee tot drie maande is internasionale pryse in VSA dollar-terme besig om te daal. Oor dieselfde periode het die rand verswak teen die VSA dollar, en dit is dus duur om in te voer.

Bron: USDA en berekening deur MPO ekonomiese lessenaar

Konteks van primêre mark

Die Suid-Afrikaanse ekonomie het met 0,2% gegroei in 2019. Ons het drie kwartale van negatiewe groei gehad wat die bruto binnelandse produk (BBP) betref. Ons het die pandemie betree vanuit die resessie, met groei van minder as 1% komende uit 2018. Die projeksies vir 2020 is ’n 6% tot 10% inkrimping volgens die Internasionale Monetêre Fonds.

Die Suid-Afrikaanse BBP in 2019 was R5,1 triljoen in nominale terme. ’n Nominale daling van 10% kom neer op R500 miljard waarmee die BBP sal inkrimp. Ons moet die omvang verstaan van dit wat ons binne ’n paar maande in die oë sal moet kyk. Dit verwys na die verbruikers se besteebare inkomste wat beperk gaan wees. 10% nominaal is nagenoeg 6% in reële terme, en die scenario wat deur die Internasionale Monetêre Fonds geskets word, is heeltemal realisties.

Die ekonomieë in Afrika suid van die Sahara is in 2020 besig om met 2% te krimp. 80% of meer van Suid-Afrika se suiweluitvoere is bestem vir hierdie subkontinent. Die Suid-Afrikaanse landbousektor is markgedrewe, wat beteken dat dit produseer volgens die vraag na die produk. Die makro-ontleding dui daarop dat die vraag na produkte – insluitende suiwel – sal afneem. Die MPO het reeds die mark begin toets om te bepaal wat gedoen kan word om voorsiening te maak daarvoor dat markseine meer gereeld tussen rolspelers in die waardeketting kan vloei.

Die produksie van onverwerkte melk het teen die einde van 2018 begin afneem en feitlik gestagneer in 2019, en hierdie tendens het voortgeduur in die eerste kwartaal van 2020. Dit was bloot die gevolg van te lae produsentepryse in 2018 en 2019. Die huidige vlak van die produksie van onverwerkte melk word deur die mark geabsorbeer, en die terugvoering van die mark af is dat melk in aanvraag is by verwerkers. Dit is egter nou winter en tradisioneel ’n tydperk van laer produksie. Teen die agtergrond van die onbekende vraag namate die ekonomie inkrimp is die MPO van mening dat produsente omsigtig moet wees en nie volumes najaag nie. Produsentepryse het vir die eerste keer in meer as twee jaar begin herstel, en in hierdie omstandighede gaan hoër volumes hierdie tendens belemmer.

Voerpryse

Bron: Safex (70% geelmielies, 30% soja)

Voer is duur, hoofsaaklik omdat die biobrandstofbedryf in die VSA ’n knou gekry het weens die lae olieprys. Die pryse van die Chicago Board of Trade is ook aansienlik laer. Dit word nie in Suid-Afrika gesien nie weens die verswakte R:VSA$-wisselkoers. Die melk:voerprys-verhouding is 1,29:1. Eers teen 1,4:1 raak suiwelproduksie ekonomies gunstig.

Bron: Safex en berekening deur MPO Ekonomiese Lessenaar

Daar is egter altyd die onbekende faktor in die landbou, soos die weer, wees dus versigtig. Tans lyk dit asof die verwerkers invoere vervang deur plaaslik geproduseerde produkte, en hierdie nuwe verskynsel staan bekend as ekonomiese patriotisme.

MPO-fokus gedurende die inperking en te midde van ’n krimpende ekonomie

  1. Ontwikkel meganismes wat die vloei van inligting in die suiwelwaardeketting aansienlik sal versnel ten einde vraag-georiënteerde produksie te verseker.
  2. Werk met die rolspelers in die suiwelwaardeketting om die vraag na suiwelprodukte verder te stimuleer en te bevorder in ooreenstemming met die vraagelastisiteit van meeste suiwelprodukte.
  3. Aksies word geneem om die bedryf en die staat te sensiteer oor voorraadopbouing van sekere suiwelprodukte in die wêreld en Suid-Afrika, en die gevaar wat hierdie voorraadopbouing inhou wanneer wêreldhandel weer normaliseer.

Bertus van Heerden, hoofekonoom, Melkprodusente-organisasie (MPO)

 

Published on Tuesday, 26th May 2020 - 15:44

Recent Posts

CHURN YOUR WEEKEND INTO A WEST COAST CHEESE AND WINE FESTIVAL

12 April 2022 Over the weekend of Saturday 23 to Sunday 24 April, the historic Groote Post Wine Estate, world-renowned for its award-winning wines, will play
Read More

HEAVY RAINFALL, ROADS CLOSURES PUT STRAIN ON KZN’S AGRICULTURAL SECTOR

MEDIA RELEASE                                                                                                                   14 April 2022 The exportation of produce and importation of agricultural related goods has been significantly affected by the recent severe weather conditions
Read More

INTERNATIONAL FARMER PRICES AND DAIRY PRODUCT PRICES AT RECORD LEVELS

MPO POINTER 2/8 April 2022 In Europe, the average farmer price of unprocessed milk is up by 20%. Indeed, a new price regime developed after numerous
Read More

FOOT-AND-MOUTH DISEASE BIOSECURITY STRATEGY FOR THE MILK PRODUCER

FOR IMMEDIATE RELEASE | 31 March 2022   Since 1 March 2022, eight new outbreaks have occurred in four South African provinces. Limpopo              2             11 March
Read More

disclaimer