Wêreldmelkdag 2018

23 Mei 2018
Vir onmiddellike vrystelling

Persvrystelling uitgereik deur dr. Chris van Dijk, uitvoerende hoof van die Melkprodusente-organisasie (MPO).

Klink ’n glasie op voedsame melk!
Wêreldmelkdag 2018

Die MPO maak gereed om aan te sluit by nagenoeg 80 lande wêreldwyd om ’n glasie te klink op melk en melkprodukte wanneer Wêreldmelkdag 2018 op 1 Junie gevier word.

Sedert die eerste Wêreldmelkdag wat in 2001 gevier is, het hierdie geleentheid gegroei tot een van die belangrikste geleenthede op die suiwelkalenders van 77 lande wêreldwyd. Verlede jaar is #Worldmilkday oor 72 uur in 77 lande by 583 verskillende geleenthede gevier om hulde te bring aan ’n produk wat soveel meer is as die som van sy talle voedingskomponente – melk!

Die waarde van melk en melkprodukte as deel van ʼn gesonde leefstyl is gevier deur aktiwiteite soos:

  • spesiale etes met net suiwelprodukte op die spyskaart;
  • besoeke aan melkplase deur skoolkinders;
  • fotokompetisies om die mees fotogeniese melkkoei te kies;
  • donasies van suiwelprodukte aan welsynsinstansies;
  • aanbiedings deur voedingkundiges oor belangrike feite omtrent melk en melkprodukte;
  • video’s van melkboere wat deelneem aan gemeenskapsontwikkelingsprojekte; en
  • geleenthede vir fisieke fiksheid met suiwel as brandstof en hersteldrankie.

Veelsydig en voedsaam

Die moderne verbruiker beskou suiwel nie meer net as ’n belangrike voedingstof in sy daaglikse dieet nie, maar as ’n noodsaaklikheid om ’n gesonde leefstyl in ’n gejaagde samelewing te handhaaf. Suiwel word deesdae in gerieflike enkelporsiehouers verpak wat dit ideaal maak vir ’n gesonde, voedsame drafstap-maaltyd of snoephappie – van jogurt vir ontbyt in die motor op pad werk toe tot ’n gegeurde melkie in ’n skoolkosblik of sportsak.

Brandstof en hersteldrankie vir sportlui

Sportmanne en -vroue wêreldwyd gebruik melk en melkprodukte toenemend as ’n energieryke brandstof om vinniger van sportbeserings te herstel, te help met spierbou, en as ’n hersteldrankie ná intensiewe oefensessies. Volgens die Amerikaanse span wat aan die 2018 Olimpiese Winterspele deelgeneem het, is ’n groot deel van die span se wenresep die feit dat melk deel is van hulle oefenprogram. Boonop word hierdie “kragtige” voedingstof elke dag as deel van die oefenprogramme by Amerikaanse Olimpiese oefensentrums aan atlete bedien.

Viets en gesond

Verskeie internasionale studies het reeds bewys dat die voedingsamestelling van melk, maas en jogurt help om die risiko van hoë bloeddruk, kardiovaskulêre siektes, en diabetes te verlaag. Die kalsium in suiwelprodukte speel ’n belangrike rol in die regulering van liggaamsmassa en daarom word selfs hoëvet-suiwelprodukte toenemend ingesluit op dieetspyskaarte. Die kalsium in melk, maas en jogurt is hoogs bio-beskikbaar en lewer ’n aansienlike bydrae tot beendigtheid. Die rol wat suiwelprodukte speel in ’n gesonde verouderingsproses en die voorkoming van osteoporose word ook wêreldwyd erken.

Wat die MPO beplan

Die MPO vier vanjaar die waarde van suiwelprodukte in ’n gesonde lewenstyl deur die volgende aktiwiteite:

  • ʼn Mediaveldtog om bewustheid te kweek van die veelsydigheid van melk.
  • Die bevordering van melk as ʼn sportdrankie in samewerking met Melk SA se Verbruikersopvoedingsprojek by Crossfit Radium in Centurion en die verspreiding van melk wat deur Clover geborg word.
  • Twee skoolbesoeke in KwaZulu-Natal deur melkboere om die belangrikheid van suiwel vir gesonde, aktiewe, slim kinders te beklemtoon en om sakkies UHT-melk wat deur Orange Grove Dairy geborg word, aan elke leerder uit te deel.

Sluit by die MPO aan op 1 Junie en klink ʼn glasie op melk!

 

Einde

 

Vir navrae skakel Karen Grobler, skakelbestuurder by 082 774 7008.

Published on Wednesday, 23rd May 2018 - 17:45

Recent Posts

CHURN YOUR WEEKEND INTO A WEST COAST CHEESE AND WINE FESTIVAL

12 April 2022 Over the weekend of Saturday 23 to Sunday 24 April, the historic Groote Post Wine Estate, world-renowned for its award-winning wines, will play
Read More

HEAVY RAINFALL, ROADS CLOSURES PUT STRAIN ON KZN’S AGRICULTURAL SECTOR

MEDIA RELEASE                                                                                                                   14 April 2022 The exportation of produce and importation of agricultural related goods has been significantly affected by the recent severe weather conditions
Read More

INTERNATIONAL FARMER PRICES AND DAIRY PRODUCT PRICES AT RECORD LEVELS

MPO POINTER 2/8 April 2022 In Europe, the average farmer price of unprocessed milk is up by 20%. Indeed, a new price regime developed after numerous
Read More

FOOT-AND-MOUTH DISEASE BIOSECURITY STRATEGY FOR THE MILK PRODUCER

FOR IMMEDIATE RELEASE | 31 March 2022   Since 1 March 2022, eight new outbreaks have occurred in four South African provinces. Limpopo              2             11 March
Read More

disclaimer